Johannesburg, 12 September 2019

Die Minister van Polisie, Bheki Cele, het vandag die 2018/19 nasionale misdaadstatistieke bekend gemaak en dit is duidelik dat Suid-Afrika se kleinhandelaars hulself nog steeds in ‘n gevaarsone bevind. 

“Die regering en wetstoepassers verdien ons sektor se waardering vir hul pogings om ‘n afname in besigheids-, bank- en transitorooftogte te verseker. Maar alhoewel die jongste #misdaadsyfers op ‘n verbetering dui, is die werklikheid dat Suid-Afrikaanse besighede nog steeds hoë vlakke van misdaad ervaar. Met 55 gewapende rooftogte en 195 inbrake per dag, bly misdaad ‘n reuse bron van kommer wat gefokusde aandag van alle betrokke partye vereis,” sê Richard Phillips, gesamentlike HUB van Cash Connect.

Volgens die Minister het besigheidsrooftogte met ’n skamele 56 voorvalle (0,28%), van 20 047 tot 19 991 afgeneem in die jaar wat in Februarie 2019 geëindig het. Besigheidsinbrake het met 29 voorvalle (0,04%), van 71 195 tot 71 224, toegeneem.

Die Verbruikersgoedereraad, Consumer Goods Council South Africa (CGCSA), bevestig dat gewapende rooftogte teen sy kleinhandellede oor dieselfde tydperk met 12% (2 272 voorvalle) afgeneem het in vergelyking met die vorige tydperk, en dat daar 13% (631 voorvalle) minder inbrake was.

“Die feit dat aanvalle teen kontanttoestelle wat aan kleinhandellede van die CGCSA behoort in die eerste agt maande van hierdie jaar met 23% geval het, is uiters bemoedigend,” voeg Philips by. 

Die kontant in transitobedryf is ‘n krities belangrike diensverskaffer aan die ekonomie en het ‘n direkte impak op kleinhandelaars regoor die land. Terwyl ons vol lof is oor die 23% afname in gewelddadige aanvalle teen transitomaatskappye tydens die periode in oënskou, merk ons dat transitorooftogte in die eerste agt maande van hierdie jaar toegeneem het tot ‘n gemiddeld van agt voorvalle per week. Dit laat die vermoede ontstaan dat ‘n gekoördineerde aanslag van die regsdepartemente wat die Minister in 2018 beloof het, nog nie behoorlik gematerialiseer het nie.

Die nasionale misdaadsyfers wat vandag vrygestel is, toon duidelike ooreenkomste tussen transitorooftogte en kleinhandelkontantmisdaad. Dit ondersteun ons mening dat hierdie misdade dikwels deur dieselfde georganiseerde sindikate uitgevoer word. 

As Suid-Afrika se leier in geoutomatiseerde kontantbestuur- en betalingsoplossings, het Cash Connect se intelligente kontantkluis-tegnologie homself reeds bewys as die mees effektiewe misdaadafskrikmiddel in die plaaslike kleinhandelsektor. “Statistieke bevestig dat kleinhandelaars se risiko vir gewapende rooftogte dramaties afneem wanneer hulle kies om robuuste kontantkluise te gebruik,” sê Phillips.

“Cash Connect se doelwit is om kontantgedrewe besighede in staat te stel om in ‘n veilige omgewing handel te dryf. Al het ons 37% meer kontantkluise in die jaar tot Februarie 2019 uitgerol, is net 3% van ons kliënte aangeval. In hierdie aanvalle is 80% van die gewapende rooftogte en 84% van bom-aanvalle teen ons kliënte suksesvol afgeweer.”

Bankrowe het ‘n beduidende afname van 69% getoon, met slegs 4 aangemelde voorvalle. Alhoewel die banksektor sy sekuriteit verbeter het, is georganiseerde misdadigers se professionaliteit en vaardighede ‘n feit. Hul modus operandi berus op noukeurige beplanning en foutlose uitvoering wat militêr in sy presisie is. Verder is die blatante gebruik van outomatiese wapens en die opblaas van OTM’e, transitovoertuie en kontantkluise die reël eerder as die uitsondering.

Aanvalle teen brandstofhandelaars het met net meer as 3% afgeneem vir die jaar wat in Februarie 2019 ten einde geloop het. “Ons is ingenome met die bykans 46% afname in aanvalle op kontantkluise by vulstasies in die eerste agt maande van hierdie jaar. Dit bewys dat ‘n meervlakkige benadering die plaag van geweldsmisdaad in ons sektor suksesvol kan aanspreek,” sê Reggie Sibiya, HUB van die Fuel Retailers Association.

Maar wat moet gedoen word?

Siende dat ongeveer R140 miljard op enige gegewe tyd in die Suid-Afrikaanse ekonomie sirkuleer, bly kontantmisdaad ‘n ernstige probleem en kan ons nie bekostig om op ons louere te rus nie. 

“Die regering en wetstoepassers het vordering gemaak om kontantmisdaadaanvalle hok te slaan,” sê Mark Templemore-Walters, operasionale direkteur van Cash Connect. “Verder is daar ook ‘n toename in die hoeveelheid kleinhandelaars wat hulle tot geoutomatiseerde kontantkluise wend. Ons kan net hoop dat meer en meer kleinhandelaars tot die stryd teen kleinhandelkontantmisdaad sal toetree, veral met die feesseisoen wat net om die draai is,” sluit Templemore-Walters af.

Vir meer inligting oor die jongste #misdaadsyfers en wenke vir handelaars om hul misdaadrisiko te verlaag, besoek https://crimestatssouthafrica.co.za/ of volg ons op Twitter of Facebook @cashconnectsus.

FREE CASH MANAGEMENT CONSULTATION

CLICK HERE
Copyright © 2020 Cash Connect.
PAIA DocumentationAll rights reserved.
facebook-icon
facebook-icon
facebook-icon
facebook-icon
cash connect cash management solutions retail safe cash vault cti cti