SocialIcons05

Die #CrimeStats vir 2016/2017 is 'n herinnering daaraan dat Suid-Afrika se stryd teen sindikaat- en georganiseerde misdadigers nog lank nie verby is nie.

"Met 'n rekordhoeveelheid van 20 680 gewapende rooftogte teen besighede, volgens die jongste misdaadstatistiek wat bekend gemaak is, ondervind Suid-Afrika 57 aanvalle per dag, 'n syfer wat kritieke ingryping van die industrie en die regering vra," sê Richard Phillips, mede-HUB van Cash Connect.  

Volgens die nasionale misdaadstatistiek wat vandag deur die Minister van Polisie, Fikile Mbalula, vrygestel is, het kontantverwante misdaad weereens toegeneem. Dit is 'n duidelike teken dat die beheer van kontantmisdade voorkeuraandag moet geniet.

Besigheidsrooftogte het met 4.9% gestyg, van 19 698 in 2015/2016 tot 20 680 die afgelope jaar, terwyl die syfer vir besigheidsinbrake ook opwaarts beweeg met 75 618 inbrake vir 2016/2017.

Ná 'n nuwe millenium-laagtepunt van 119 rooftogte wat in die nasionale statistiek vir 2014/2105 gerapporteer is, toon die grafiek vir 2016/2017 'n styging ten opsigte van verlede jaar se syfers, met 11% KIT-rooftogte (152 rooftogte).

Sabric se bestuurshoof, Kalyani Pillay, het vroeër hierdie maand aangedui dat die organisasie tussen 1 Januarie en 31 Augustus 2017 van 32 KIT-insidente landswyd in kennis gestel is. "'n Toename van 49% blyk duidelik wanneer hierdie jaar vergelyk word met dieselfde tydperk verlede jaar," het Pillay gesê.  "Ons is baie besorg oor die aantal beserings en sterftes onder KIT-personeel, asook die skade wat aangerig word aan KIT-voertuie in die insidente waar misdadigers plofstowwe tydens aanvalle gebruik."

Die armoedestatistiek wat 'n paar weke gelede deur Statistiek SA vrygestel is, bevestig die hoë werkloosheidsyfer en toenemende armoede wat in ons land heers. Daarmee in gedagte, sê Phillips: "Hoewel dit logies sou klink om die hoë vlakke van kontantmisdaad aan die armoedesyfer toe te skryf, tesame met faktore soos swak ekonomiese groei, voortslepende hoë werkloosheidsvlakke, laer kommoditeitspryse, hoër verbruikerspryse (veral vir krag en kos), laer beleggingsvlakke, huishoudings wat al hoe meer op krediet staatmaak en politieke onsekerheid, is ek nie so seker dat dit 'n akkurate veronderstelling is nie. Ek glo dat die werklike kwessie hier die herverskyning van georganiseerde misdaadsindikate op ons strate is. Professionele en gewoontemisdadigers wat uiters goed georganiseerd, kundig en gefinansier is, val die kleinhandelsektor, die KIT-sektor asook banke en OTMe aan op soek na groot hoeveelhede kontant."

Hoewel Cash Connect hierdie jaar alleen al R40 miljard van hulle klante se kontant kon beskerm, sê Phillips dat kontantmisdade prioriteit moet kry. "Die Suid-Afrikaanse Polisiediens moet verseker dat misdaadintelligensie, polisiëring, die Nasionale Vervolgingsgesag en die howe met die kontantbedryf saamwerk om die kontant te beskerm wat ons kleinhandel- en handelsekonomie voed", sê hy.

Gegrond op lesse geleer uit die verlede en inligting wat in misdaadstatistiek vervat is, is beleggings in drie gebiede waarskynlik die antwoord vir die kleinhandel- en KIT-bedrywe.

Misdaadbestryding

Volgens dr. Johan Burger, senior navorser by die Instituut vir Veiligheidstudies, kan ons lesse uit die verlede leer. Met die eeuwisseling het die Suid-Afrikaanse Polisie ten minste ses jaar lank 'n prioriteitmisdaad-inisiatief gevoer ten opsigte van bank- en KIT-misdaad. Dit was die hoeksteen van die multi-gefasetteerde benadering wat KIT- en ander kontantverwante misdade onder beheer gebring het.

"Suid-Afrika het in die 1990s gesteier onder 700 tot 800 aanvalle per jaar," sê Burger.

"Misdaadintelligensie en 'n noukeurig gekoördineerde, professionele reaksiestrategie het destyds gewerk, en dit sal weer werk."

Die baie beter vloei van inligting en groter getalle arrestasies wat die resultaat was van die taakmag wat die Minister van Polisie in 2016 in plek gestel het om te fokus op besigheidsmisdaad en kontantrooftogte, bevestig Burger se woorde.

"Maar daar moet meer gedoen word," sê hy. "Die KIT-verskaffers, asook kleinhandelaars en die bankwese, moet aanhou om druk uit te oefen op die geregtelike groepe om die prioritisering van bank- en KIT-misdaad te bestuur en om baie nouer met die bedryf saam te werk om sindikaat- en georganiseerde misdaad in toom te hou. Om hierdie soort misdaad te beveg, moet die beplanning daarvan ten minste net so gesofistikeerd wees as die beplanning en uitvoering wat hierdie misdade moontlik maak."

KIT-belegging in N&O

Ironies genoeg het KIT-verskaffers se kontant in onlangse jare min geraak. Die tarief waarteen KIT-dienste aan klante gelewer word, het gedaal tot op 'n punt waar tariewe nie meer tred hou met inflasie nie.

"Die marges wat voorheen vir navorsing en ontwikkeling (N&O) beskikbaar was, is eenvoudig net nie meer daar nie," sê Phillips. "En namate risiko's en aanvalle toeneem, skiet ons versekeringskoste die hoogte in. Intussen verfyn die sindikate voortdurend hulle metodes en behaal hulle al hoe meer sukses, wat weer daartoe lei dat hulle al hoe meer astrant raak."

Volgehoue N&O het baie meriete. Cash Connect se kontantkluise, wat vervaardig word volgens SABS Kategorie 4-standaarde, het bekendheid verwerf vir hulle vermoë om die meeste van die grootste en algemeenste aanvalle te weerstaan, en sodoende 'n gedugte afskrikmiddel te voorsien. Daarbenewens verminder die nuutste modelle die omvang van indirekte skade wat so kenmerkend was van aanvalle in die verlede waar daar plofstowwe gebruik is. Dit is dus nog 'n mylpaal in die evolusie van kontantkluis-tegnologie.

"Die kontantbedryf is van strategiese belang vir die Suid-Afrikaanse ekonomie," sê Phillips. "Ongeveer 84% van alle betalings word steeds kontant gedoen; ons het R136 miljard se kontant in sirkulasie." As gevolg hiervan glo Phillips dat minimum KIT-bedryfstandaarde en
-dienstariewe deur die wet gereguleer behoort te word.

Voorkoming begin op grondvlak

Navorsing het getoon dat 'n verstommende 90% van aanvalle op besighede uitgevoer word met eerstehandse kennis wat van werknemers self verkry word. Dit wys dat werkgewers 'n baie groter rol daarin kan speel om hulle eie besighede te beveilig deur betrokke te wees by die mense wat vir hulle werk en ook te belê in beter verhoudinge in die werkplek.

Mari Lee, HUB van DevCom, 'n kommunikasieagentskap wat daarin spesialiseer om besighede te help om prosesse te verbeter sodat hulle werknemers en eksterne belanghebbendes betrek word op maniere wat regstreeks bydra tot die verkryging van besigheidsresultate, stem hiermee saam. "Die tientalle navorsingsprojekte wat ons oor die jare gedoen het, het telkens bevestig dat werknemers wat voel dat hulle gerespekteer en gewaardeer word en dat daar na hulle geluister word, sal in belang van die maatskappy optree. Die intelligensie van misdaadstatistiek behoort kleinhandelaars te motiveer om tyd, moeite en geld te belê in sinvolle werknemerbetrokkenheid."

Phillips sê ten laaste dat Suid-Afrika se kleinhandel- en KIT-sektore desperaat is vir onmiddellike ingryping om kontantmisdaad aan bande te lê. Die gety kan gedraai word. Dit kan gedoen word deurdat druk uitgeoefen word vir 'n gekoördineerde benadering; noodsaaklike inligting onder bedryfsliggame met mekaar gedeel word; en daar in misdaadintelligensie, tegnologiese verbeterings en werksverhoudinge belê word. Dis nou die tyd vir aksie.

Vir meer inligting oor die jongste #CrimeStats en wenke oor hoe kleinhandelaars hulle risiko van gewapende roof kan verlaag, gaan na www.crimestatssouthafrica.co.za of volg ons op Twitter @cashconnectsus vir kontant-en-misdaadstatistiek en -nuus.

 

FREE CASH MANAGEMENT CONSULTATION

CLICK HERE
Copyright © 2020 Cash Connect.
PAIA DocumentationAll rights reserved.
facebook-icon
facebook-icon
facebook-icon
facebook-icon
cash connect cash management solutions retail safe cash vault cti cti